2010
05.18

Een definisie van terrorisme is die stelselmatige gebruik van vrees om ander partye te dwing om aan jou politieke eise gehoor te gee. In die jare sewentig het die IRL in Noord-Ierland ‘n stelselmatige veldtog van bomplantery, intimidasie en vrees van stapel gestuur om die Britte te probeer dwing om Noord-Ierland met die Republiek van Ierland te herenig.

Terroriste-organisasies is dikwels ‘n minderheid, maar ‘n ekstreme minderheid. Die meerderheid inwoners van Noord-Ierland is Protestante. Die IRL was ‘n Katolieke organisasie, wat die ekstreme faksie van die Katolieke verteenwoordig het. Die eise van die minderheid is dikwels onredelik of in konflik met die belange en wil van die meerderheid. In Noord-Ierland wou die meerderheid Protestante deel van Brittanje bly.

‘n Oogmerk van terreurgroepe is om dit moeilik of onmoontlik te maak vir die owerhede om ‘n land effektief te regeer. Die ANC se openlike doelstelling tydens die 1980’s was om Suid-Afrika onregeerbaar te maak. Anargie en wetteloosheid is terroriste se bondgenote en oogmerk hiermee.

Terrorisme gaan bykans altyd met geweld of dan die dreigement van geweld gepaard. Al-Kaïda dreig om die Sokkerwêreldbeker in Suid-Afrika te ontwrig op ‘n ongespesifiseerde wyse, maar mens kan seker wees dat, sou dié dreigement tot uitvoering kom, dit geweld sou insluit. Dié geweld neem dikwels die vorm van sabotasie aan, waartydens infrastruktuur soos elektriese substasies geteiken word.

Die intimidasie van die burgerlike bevolking loop hand-aan-hand met die geweld. Mkhonto we Sizwe, die sogenaamde militêre vleuel van die ANC (sogenaamd omdat sy “militêre” vernuf beperk was tot laakbare, lafhartige aanvalle op onskuldige burgerlikes) het bondgenote gehad wat vrees en bewing onder die bevolking in die townships gesaai het. Die destydse opperkrimineel, die sogenaamde moeder (-misdadiger) van die nasie, Winnie Mandela, het die berugte uitlating gemaak dat die ANC die land sou bevry met vuurhoutjies en brandende buitebande. Laasgenoemde was uit en uit daarop gemik om die ongesofistikeerdes onder die bevolking die skrik op die lyf te jaag.

Vandag gaan Suid-Afrika steeds gebuk onder ‘n vlaag van terreur, en stap terroriste vryelik tussen ons.
Nee, dis nie sogenaamde regse terroriste nie. Laasgenoemde verteenwoordig na my mening glad nie ‘n realistiese bedreiging vir enige iemand nie, omdat hulle, sou hulle bestaan, meestal klein, relatief gedisorganiseerde groepies is, sonder veel in die lyn van ‘n werkbare strategie en beslis sonder grootskeepse befondsing en steun. Mao Zedong het gesê dat ‘n gewelddadige rewolusie onmoontlik is sonder buitelandse steun, en ek twyfel baie sterk of sogenaamde regse terroriste enige steun vanuit die buiteland sou ontvang.

Suid-Afrika se ware terroriste is baie meer talryk as enige regse terreurgroepe. Hulle is nie net meer talryk nie, maar ook veel beter georganiseerd, beter befonds en baie meer suksesvol met hul saaiery van vrees en geweld. Hulle opereer ook ongestoord en openlik in Suid-Afirka. Mens noem hulle die vakbonde, spesifiek dié wat deel is van die Cosatu-vakbondfederasie.

Cosatu se vakbonde voldoen aan bykans al die kenmerke van ‘n terreurorganisasie soos Al-Kaïda, behalwe vir een verskil: Cosatu is nie ‘n onwettige organisasie in Suid-Afrika nie. Redes waarom Cosatu uit en uit ‘n terreur-organisasie is, sluit in:

• Alhoewel Cosatu se vakbonde twee miljoen lede het, is hulle ‘n minderheid vergeleke met die totale aantal werknemers in Suid-Afrika, en veral vergeleke met die tiene miljoene werkloses. Hulle verteenwoordig dus ‘n klein persentasie van die bevolking. Hul eise is dikwels absurd en slegs in belang van hulself.

• Bykans alle stakings waarby Cosatu se vakbonde betrokke is, ontaard in geweld. Enkele jare gelede is mense na hul dood uit bewegende treine gesmyt. Plundery en vandalisme is algemeen tydens stakings waarby byvoorbeeld munisipale werkers betrokke is.

• Mkhonto we Sizwe het infrastruktuur gesaboteur. Tydens die huidige SATAWU-staking is ‘n trein doelbewus ontspoor, vermoedelik deur stakende werkers. Dit is niks anders as blatante sabotasie deur ‘n terreurgroep nie.

• Dit is ‘n welbekende feit dat werkers wat nie wil deelneem aan ‘n staking nie, geterroriseer en geïntimideer word deur dié wat wel staak. Dit is veral in die taxibedryf dat sulke intimidasie dikwels dodelik kan wees.

• Nes die terroriste van die UDM en ANC ten doel gehad het om die land onregeerbaar te maak, is die oogmerk van die stakers dikwels om soveel anargie en chaos as moontlik te saai. SATAWU se doel is om die land se vervoerstelsel tot stilstand te bring.

Nietemin word Cosatu onverhinderd toegelaat om sy terreur te saai. Daar is verskeie redes hiervoor, benewens die feit dat Cosatu deel is van die regerende kabaal misdadigers. Een is dat die ANC, soos Margaret Thatcher hulle baie akkuraat beskryf het, steeds self ‘n terreurorganisasie is, en derhalwe beskou die ANC Cosatu se optrede stellig as aanvaarbaar of normaal. Tweedens is dit ‘n feit dat, selfs al wou die ANC Cosatu se terreur in die bek ruk, die veiligheidsmagte so hopeloos en op rassistiese wyse getransformeer is, dat hulle eenvoudig nie so kan maak nie.

Baie mense is op hol oor die sogenaamde bedreiging van imaginêre regse of blanke terreurgroepe, terwyl die terreur wat baie van die twee miljoen lede van Cosatu se vakbonde daagliks saai, elke aand op die TV-nuus gebeeldsend word.

No Comment.

Add Your Comment

Comments are closed.